Loading...

Getuienisse

TOERUSTING, VERANDERING, HERSTEL, HERLEWING
1. Met die nuwe fokus op die leiers van die volgende generasie, die uitbreiding van ons vennootskappe en die opvolgplan van die mpa bly ons soos altyd, onbeskaamd Gees-gesentreerd!

Jongleraars MENTORSKAPPROGRAM

Die wegbreek saam met jong, dinamiese leraars is die nuutste bedieningsveld waarmee God ons kom seën het. Uitgesoekte jong leraars van regoor die land gaan vir 3 dae na ‘n plaas in die Waterberge waar hulle kan stil word en tyd saam met God en met mekaar spandeer. Wat ‘n bemoediging om te sien hoe passievol, vol geloof en vertroue hierdie jongmanne die uitdagings van die bediening hanteer. Mens kry hoop en besef dit is hierdie jongmanne wat weer die jeug in SA gaan bereik en terugbring kerk toe.

2. Wat sê die konferensiegangers oor die mpa-Konferensies...

‘n Paar (anonieme) aanhalings uit terugvoer wat ons met die tyd al ontvang het:

  • “Ek het hierdie 3 dae VDM ontvang! Visie, Drome en Motivering! My denke is vernuwe en ek het praktiese toepassings gekry vir my geestelike lewe en ook vir my gemeente se strukture. Ek het ook ‘n Assosiasie gevind met wie ek nog ‘n ver pad kan stap.”
  • “Iemand vreemds het vir my ‘n woord kom gee wat bevestiging was van God in my lewe. Dit was waarom ek hier moes wees. My gees is versterk.”
  • “Bevryding van ‘n probleem wat ek met iemand gehad het tydens die sessie waar ons vir mekaar gebid het, asook ‘n ongelooflike ervaring van die Gees wat opnuut in my lewe ingekom het. “
  • “ Ek was vir die eerste keer bedien – ek bedien altyd ander.”
  • “Baie dankie vir julle liefde en gasvryheid. Wat ek geleer het sal verseker ‘n impak in my bediening en gemeente maak.”
  • “Baie baie baie dankie vir julle onvoorwaardelike liefde en julle Jesus-harte. Ons het Jesus se hart gesien, gehoor en gevoel! Dankie dat julle die Liggaam bemagtig! Mag die stroom wyer vloei! God seën die mpa en Moreletapark Gemeente.”
  • “Ek LOOF ons Vader vir mense soos julle en vir wat Hy deur julle doen!!! Aan Hom al die EER!!! EN baie dankie dat julle gehoorsaam is aan die Heilige Gees. Daardie daadwerklike gehoorsaamheid kon ek so duidelik aanvoel en by elke geleentheid beleef!!! Ek het so baie daaruit geleer. ‘n Mens verkondig dit, maar sien so min daarvan. Het Donderdagaand voor die kerkraad getuig van hierdie uitstaande belewenis by julle. Dit het vir my die hele konferensie oorkoepel.”
  • “ Ek gaan nie hier weg met ‘n klomp slim planne nie maar met ‘n hart wat klop vir die Heilige Gees!“
3. Groei en guns... mpa getuig!

Sedert die ontstaan het die Here die bediening buitengewoon geseën en sy grondgebied vergroot. Die Here het die bediening guns gegee op allerlei terreine:

  • Talle geleenthede vir samewerking tussen die mpa en ander denominasies het reeds ontstaan.
  • Die Here voorsien deurlopend die finansies soos wat die werk uitbrei.
  • As gevolg van hierdie Voorsiening, het die werksaamhede van die mpa reeds as volg uitgebrei:
    • Weg-konferensies op uitnodiging vind meer en meer plaas.
    • Engelse mpa-konferensies word reeds sedert 2015 aangebied.
    • Opvolgkonferensies (mpa II) vir diegene wat reeds 'n mpa-konferensie (mpa I) bygewoon het, word reeds sedert 2015 aangebied.
    • 'n Groep jongleraars wat deur ds. Dirkie en sy span gementor word, woon twee keer per jaar 'n wegbreekkonferensie op 'n wildsplaas by.
    • Verskeie mpa-konferensies is reeds op versoek van, en samewerking met, die Oostelike Sinode aangebied.

Ons wil die Here eer en verheerlik vir sy oorvloedige en onverdiende seën. Dankie aan elkeen wat die mpa op een of ander manier ondersteun.